Hoe lyk ‘n karakter? Hoe klink hy? Elke leser besluit seker self, reg? Of help die skrywer subtiel hiermee?
Een van my gunsteling-maniere om met ander skrywers se verhale om te gaan, is om te visualiseer hoe die karakters en tonele lyk. Dis jou voorreg as leser. Sommige skrywers help die leser hiermee, beskryf plekke en mense in die fynste detail, terwyl ander dit meestal aan die leser se verbeelding oorlaat.
Ek verkies om die leser te help. Ek visualiseer self die tonele, beplan dit tot op die meter selfs veral as ek ‘n aksietoneel moet beskryf. Of met ‘n bietjie detail wat iets sê oor die karakter, soos ‘n asbak buite op stoep langs ‘n koffiekoppie wat op ‘n karakter se roetine wys.
Net nog iets wat ek nie hoe uit te spel en woord-oordadig mee hoef te raak nie.
Ek gebruik verskeie maniere om die tonele en plekke te visualiseer. Werklike plekke. Want dis makliker om bestaande persele, geboue en geografiese kenmerke te gebruik as om goed op te maak. Google Earth is baie handig hiervoor. Ek gebruik dit konstant om veral aksietonele te beplan. Waar die vensters in ‘n bestaande gebou is (in Carlos se huis, Bos), of daar bome naby ‘n lyndraad is (John Himes se wegkruip-huis, in Ivoor), en die lengte van die straat in Palma waarin Dolos se slottoneel afspeel.
Dit alles gee my werklike gegewens, soos afstand vir ‘n skoot, tyd wat dit sal neem om deur of oor te klim, en of dit enigsins moontlik is om ongesiens of betyds oor ‘n afstand te beweeg. As dit nie realisties is nie, maak dit nie in die boek nie.
Deesdae is daar kunsmatige intelligensie om hiermee te help. KI gebruik bloot bestaande internetgestoorde beelde en stel “nuwe” werke saam deur aan die hand van jou instruksies ‘n toneel aanmekaar te flans. Jy kan beelde skep deur dit in woorde te beskryf.
Jou beskrywing, die sogenaamde “prompt”, is meer as ‘n kuns. Dis ‘n wetenskap op sy eie. ‘n Heel nuwe bedryf, ironies genoeg, as jy in ag neem hoeveel werk KI van mense weggeneen het. Maar dit daar gelaat.
Ek het ‘n baie spesifieke idee gehad van hoe my karakters Ruth en Ruby Heyns lyk. Aanvallige vroue, kop-draaiers, baie spesifieke neus-vorms, en uiteenlopende persoonlikhede. My uitgewer het dit so aan die omslagontwerper, Mike Cruywagen, deurgegee, en hy het dit in teks-instruksies omgesit.
Sy omslae het my verstom. Dit was nie heeltemal die Ruth in my kop nie, maar dit was nogtans ‘n verruklike mens. Mooi genoeg om ‘n vriend te laat vra: “Is sy single?”
Hoewel ek in die algemeen baie lugtig vir KI se nadelige uitwerking op ons werkomgewings is, kan ‘n mens nie misken wat ‘n kragtige stuk skeppende gereedskap dit is nie. KI en die verbale leidrade waarmee jy beelde kan optoor, het skrywers ‘n nuwe stuk gereedskap gegee, iets wat na die skryf van die Donkermaan-manuskrip heerlik kon inspan.
Ek het aanvanklik Google Earth en internet-foto’s van werklike plekke te gebruik om tonele te beplan ten te beskryf, maar daarna ook AI ingespan om dieselfde tonele te visualiseer. Bloot uit nuuskierigheid.
Dit was interessant om te sien wat uitkom. Ek het hoofsaaklik drie gebruik – Google se Gemini, ChatGPT en StableDiffusion. Dieselfde ‘prompt’ het uiteenlopende resultate gelewer. ChatGPT was super-realisties, maar het verseg om my instruksies oor hoe Ruth lyk, tot op die letter toe te pas. Gemini het die karakter se gesig reggekry, maar die beeld was leweloos, en StableDiffusion het my instruksies mooi gevolg maar min alternatiewe opsies gegee.
ChatGPT het emosie verstommend goed uitgebeeld. Ongelukkig saam met die emosie ook ses vingers aan ‘n hand gesit. ‘n Mens kan seker ook nie alles hê nie …
Hier’s ‘n paar van die probeerslae uit Donkermaan. Ek sal dieselfde doen met Sekelmaan, na hy verskyn. Kyk gerus of julle die tonele herken.










Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.