Ek het binnekennis nodig gehad. Oor Israel, een van die mees komplekse lande op aarde, sy mense, sy politiek en lewensbeskouinge. Al is net ‘n tweedehandse kennis, letterlik oor ‘n brekfis opgedoen. En dis hoe Donkermaan se navorsing begin het. Oor ‘n brekfis.

Dis ‘n sopnat Sondagoggend. Voor my, ‘n bord warm shakshouka, ‘n gewilde Israeliese ontbytgereg, ‘n mengsel van gekookte eier in ‘n tamatiesmoor, olyfolie, rooipepers, uie en knoffel. Dis heerlik, warm, geurig, en word saam met roosterbrood bedien.

Ek ken dit nie. Shaksouka is eintlik Maghrebi van oorsprong en gewild regdeur Noord-Afrika en die Midde Ooste. Nog iets wat ek nie geweet het nie. Soos die meeste dinge Midde-Oosters, het ek besef toe ek my in Donkermaan en Sekelmaan se stories begin verdiep het.

Israel en sy mense sou sentraal staan in my nuwe tweeluik. ‘n Land wat ek glad nie ken nie. Nog minder sy mense, hul voorliefdes en gewoontes.

Ek het hulp nodig gehad om my in die kultuur van die mense te verdiep. Ek wou myself deeglik ingrawe in die psige van die Israeli. Een van die mees omstrede nasies op die planeet vandag. Kompleks, intern verdeeld dog verenig, terselfdertyd erg verdelend in wêreldopinies. ‘n Held vir sommige, massmoordenaar vir ander. Die Joodse volk bly ‘n enigma. Hoe skryf jy selfs naasteby oortuigend oor so ‘n nasie?

Ek het dit oorweeg om Israel self te besoek. Pryse vir vlugte beloer, ‘n toer beplan. Wat moet jy sien, waar bly jy, hoe beweeg jy rond? Kan ek met Engels regkom?

Toe bel ek Ioel Shem-Tov om sy raad te vra. Ioel en ek is jare vriende. Kan ek hom vir koffie en ‘n geselsie ontmoet? Half Israeli, half Jordaniër, kaalgeskeerde kop en skerp blou oë. Trots Israeli, tog krities oor homself en die land. Hy is aweregs, met ‘n fyn en soms obskure sin vir humor, direk en meestal opsetlik ongepoets.

Ioel was nie tevrede met net ‘n gesprek oor koffie nie. Kom eet brekfis by my, kom ervaar ‘n stukkie Israel eerstehands.

“Nie so nie,” sê hy toe ek my shakshouka en brood met mes en vurk wil takel. “Eet dit met die hand. Jy sal geen Israeli vang sy brood met eetgerei benader nie,” sê hy. En so begin my opvoeding in alle dinge Israeli.

Ek wil weet hoe dit ruik, klink en smaak daar. Tel-Aviv, Jerusalem, Haifa. “En Gasa, as jy dit ken, Ioel.”

“Ek sal moor vir Jerusalem se berglug,” sê hy die oggend oor ontbyt. Die stad is in die berge, koeler as Tel-Aviv, op seevlak. Dis warm, sweterig, afhangende van die seisoen. Hy ken nie Gasa nie, jammer.

Genoeg oor die weer. Hoe is die mense daar?

“Informeel. Mense sal mekaar nie sommer op titels aanspreek nie. Geen meneer of mevrou nie. Op ‘n vliegtuig sal die waardin jou sommer as ‘Malka’ (queen) aanspreek. Soos in ‘Watter wyn vir jou, Malka?'”

In die weermag probeer almal hul uiterste bes om nie iemand op sy rang aan te spreek nie. Laer range sal eerder in kringe om dit praat om die rang te vermy, sê hy. As iemand ‘n offisier op sy rang aanspreek, is dit gewoonlik omdat hy aangejaag het. Dis ‘n reken van onderdanigheid, die knie buig voor gesag. Israeli’s haat dit. You don’t say.

Ek begin ‘n beeld vorm van die soort mens, die menswees, die dryfvere wat die karakters in my boeke gaan vorm. Dis goud. Presies die soort inligting wat ek gesoek het. Die krulle en draadwerk wat die mense – en my karakters – gaan moet inkleur.

Ek pols Ioel verder. Oor hoe mense kuier, met mekaar omgaan. Hoe families reageer op kinders wat weermag toe gaan vir hul drie jaar diensplig. Watter feeste hulle bywoon, wat hulle vier. Hoe vloek hulle mekaar? Wat sê jy as jy jou toon stamp? Hoekom groet mense mekaar op Arabies eerder as met die (blykbaar) meer formele shalom? Wat eet hulle, waar, en watter koffie drink hulle?

En so gaandeweg begin ek ‘n prentjie vorm van die agtergrond. Ek is nou meer gerus, maar nog glad nie tevrede nie.

Ek wil die plek ruik, voel. Beleef.

“Kom saam, Tel-Aviv toe, in September,” sê Ioel ‘n paar weke later. Dis die vyftigste viering van Yom Kippur. En dis die eenjarige herdenking van sy pa se dood. “Kom bly by my en my ma.”

“Nee, dis te persoonlik, Ioel. Te rou.”

“Ek het haar klaar gevra. Jy is welkom.”

Die volgende oomblik daag die gegewens van sy vlugbespreking op. Daar’s nog plek op die vlug. Kry ‘n kaartjie, dan help hy my anderkant deur doeane en die veiligheidsklaring met my kameras.

“Klaring? Watse klaring?”

“Dis Israel. Dis streng.”

Ek begin vir die eerste keer werklik besef waarin ek my begewe. Dis September, 2023. ‘n Land in ‘n konstante staat van oorlog. Maar dis my enigste kans. Oktober is reeds uitgeboek met werk en ‘n reis Namibië toe in November. Dis nou of nooit.

“Nooit,” sê my vrou. Sy wil saamgaan, maar sy kan nie in September nie. “En jy gaan nie sonder my nie.”

Ioel is duidelik teleurgesteld. Ek dink hy’t die rol van toerleier begin geniet. Maar dit is wat dit is. Ek gaan moet tevrede wees met wat ek het en verder uit ander bronne kan kry oor die land. Ek maak vrede daarmee. En sien geskok, twee weke daarna, hoe Hamas oor die grens van Gasa bars en 1200 mense vermoor en ontvoer.

Ek, soos die res van die wêreld, is oorweldig deur die onverwagsheid, die brutaliteit, die doeltreffendheid waarmee Hamas-lede die operasie uitvoer. Israel solied in die knaters geskop.

Dit verander die storie. My storie. Ek sit die boek neer, sit vir drie maande op my hande terwyl ek die gebeure dophou, die dodetal sien styg, Israel se wraak die lyke laat opstapel. Mense verdeel, protes-aksie binne Israel self, teen die koalisieregering se onvermoë om die gevangenes terug te kry.

Ek gesels met ‘n joernalis uit Haifa wat Gasa beleef het. Hy vertel die weermag loop ook deur onder die openbare oordeel oor sy handhandige optrede in die besette gebiede, sy nie-diskriminerende bombardering van Gasa se stede. Tog, sê hy, die oorgrote meerderheid van mense is ten gunste van streng optrede teen Hamas.

Teenstrydighede soos dié stapel op, maak skryf moeilik. Jy begin besef wat die reik van beide Israel en Hamas se propaganda-veldtogte is. Jy lees en sien wat die twee kante wil hê jy moet weet. Waar lê die ware storie? Hoe oordeel jy oor wat waar is, en wat bloot propaganda is? Dis ‘n onbegonne taak, kant kies ‘n onmoontlikheid sonder die ware feite.

En juis dit kleur toe finaal hoe Donkermaan en Sekelmaan uitspeel vir my. In die onsekerheid, in die gekonkel, die feite wat liefs verborge moet bly. Die storie agter die nuus. Dis die verhaal wat ek gesoek het.

.

https://www.loot.co.za/product/donkermaan/fylp-8398-g300

https://www.graffitibooks.co.za/af/394718/Boeke/Jaco-WolmaransPTAFM-Donkermaan