Ek is manies oor feite regkry. Masjiengewere het nie onbeperkte magasyne nie. Iets soos ‘n AK hou hoogstens dertig rondes, en teen ‘n vuurtempo van 600 rondes per minuut hou daardie magasyn nie lank nie! In elk geval nie naasteby so lank soos wat Hollywood so lief is om uit te beeld nie.

Dis hoekom ek so baie moeite doen om die feite so ver moontlik reg te kry in my skryfwerk. Ek wil daardie goed wat my so irriteer in die movies regkry. Feite soos hoe jy huise binneval en skoonmaak, hoe jy altyd in ‘n vuurgeveg die kleinste moontlike teiken bied, hoe professionele soldate sover moontlik uit die skouer en nie die heup skiet nie.

Miskien is dit ‘n oorblyfsel van my jare as dagblad-joernalis. Van feite regkry, of apologie moet aanteken op die voorblad!

Tussen ons gesê, dis ook by verre die meeste pret van die hele skryfproses. Die navorsing. Ure en ure se ge-tob oor die of daai detail, plek, straatnaam, vuurtempo, tegnologie. Soms voel dit soos tydmors. Baie van die feite word nooit gebruik nie. Maar dit stop jou nie om dit in te samel nie!

Google Earth was briljant hiervoor. Waar ek moes skryf oor ‘n plek wat ek nie persoonlik besoek het nie, kon ek dit oorhoofs en op straatvlak bekyk, deurstap, takties my karakters se aanval of ekstraksie beplan. Byvoorbeeld: die huis waarin Carlos gebly het, bestaan. Die dorpie bestaan, en die hele taktiese beweging wat ek daarom beskryf, plus die ontsnappingsroetes, is werklik daar.

Dit was ook die onderbou vir die aksietonele in die boek. Om ‘n denkbeeldige exfil-plan op te stel, is soveel moeiliker. Kyk jy egter na die werklike terrein in 3D, is dit veel makliker om die logiese pad wat enige mens sou kies as hy onder vuur kom, te bepaal. En dan Carlos se aweregse logika daarop toepas om die gooks te verwar.

Dieselfde geld vir die toneel waar Jan Botes die buffels aanjaag. Die plein bestaan. Dit is ‘n reservaat. Die koppie bestaan. As jy op sulke plat aarde ‘n RV-punt moes kies, sou dit die enigste hoë punt wees. Dis logies. En dis daardie logika wat Carlos so knap inspan teen die vyand. Hy het my telkemale met sy slinksheid verbaas.

Oor die terrein self – ek was in Angola, net oorkant die grens van Rundu, maar dit was letterlik ‘n oorswem ander kant toe na ‘n halwe kis bier, daar water afslaan op ‘n deel van die oewer waar ek weet die landmyne gesaai was, en toe terugswem terwyl my dronk buddies vir krokodille uitkyk. Hoe ons ons jeug oorleef het, weet nugter alleen.

Ek is terug Luanda toe ‘n paar jaar gelede, en was geskok oor die hoofstad se toestand, die agterdog van die mense, en skietgate in die mure. Ek sal daardie ervaring nog verweef in ‘n toekomstige stuk skrywe.

Dos Santos se standbeeld in Maputo

Kort daarna was in ek Mosambiek, waar ek bevoorreg was om in Maputo se hawe op ‘n boot agter ‘n dhow aan te seil om dit af te neem. Die fotosessie het ons kort-kort verby militêre installasies in die hawe geneem, verby ou stoorplekke, groot hangars en dies meer, en oral maar oral staan mans met AK-47s rond.

Nou roer hierby die feit dat ek Koos Stadler se boek Recce kort voor die vlug soontoe aangeskaf het, en dit halfpad verslind het op pad soontoe. Met dit vars in geheue, en hierdie amper eksotiese tonele voor my, het dit my laat wonder – hoekom nie ‘n deel van my verhaal hier te laat afspeel nie? Van daar ook dan die agtergrond vir die taktiese aanval op die hawe in BOS.

Ek het selfs gery deur die Maputo-krotbuurte in die verhaal genoem. Ek en ‘n drywer het dit deurkruis op soek na spesifieke geboue wat ek moes afneem. Dit was vreeslik handig in die beplanning van die karakters se optrede in Mosambiek, hul kontak met die onderwêreld, en hul uiteindelike plan om wapens in te smokkel vir die hawe-operasie. Dit was alles daar, in my onderbewuste, gereed om ingespan te word.

Vir die navorsing vir my volgende boek het ek kontak gemaak met ‘n paar interessante mense. Een was ‘n voormalige spioen in die ou regering, M. Ek het hom in diepte uitgevra oor waar hul kennis, hul planmaak, hul opleiding vandaan gekom het. Hy’t net gelag. Nee wat, ons was maar net prakties. Daar was nie ‘n handleiding nie. Ons het goed maar so in die ry aanmekaar gesit.

M se beskeidenheid is nie misplaas nie. Die mense soos Tex en Carlos was van nature planmakers. ‘n Boer met ‘n draadtang is ‘n wonderlike ding. Na ek met M gesels het, het ek besef dat die operateurs uit die jare tagtig presies hierdie Boerse genialiteit getoon het. Daar was niks fancy nie. Of baie min. Dit was just plain dog fuck wat hulle laat oorleef het, soos my oud-Rhodesiese vriend André lief was om common sense te beskryf.

Namate ek geskryf het, het ek al hoe meer respek ontwikkel vir amperse bomenslike gewoonheid en praktikaliteit van ons oud-operateurs. Ons Recces het klaarblyklik genoegsaam dog fuck gehad, en ek het gevoel dat as ek hulle wêreld gaan beskryf, sonder dat ek self ‘n voet daarin gehad het, moet ek hulle minstens die guns doen om die feite so na as moontlik reg te kry.

So die navorsing was soms seker bietjie tydmors, oordadig en ‘n manier om jouself weg te hou van die meer pynlike deel van die skryfproses. Tog, wanneer jy mooi dink daaroor, besef jy dit gaan oor respek. Vir  die mense waaroor die boek gaan: die lede van ons eertydse verkenningskommando’s, maar ook vir jou leser. Daar sal altyd iemand wees wat meer weet as jy oor wapens/Portugees/spoorsny. En soos die terugvoer inkom oor BOS, besef ek die detail en die akkuraatheid daarvan is vir hierdie mense net so belangrik vir hul genot van die lees soos dit was vir my in die skryf. Die navorsing was elke minuut werd.