Hierdie soort kommentaar laat my gloei. ‘n Faceboek-kennis, Madelein Dowd (haarself ‘n oud-intelligensiemens), skryf oor Donkermaan:
Ek het al die vorige boeke van die skrywer gelees, dus het ek dié boek sonder huiwering ook gekoop, sonder om eers te kyk waaroor dit gaan. Toe ek sien die gaan oor spioenasie in Suid-Afrika, het ek amper nie begin lees nie.
Ek was oortuig dit gaan onrealisties wees.
Maar na ‘n paar bladsye, het my siniese ingesteldheid teenoor die onderwerp begin verander. Dit speel af in 1990. Israel het ‘n dringende nood om revolusionêre radarversteuringstegnologie, wat ontwikkel word deur ‘n filiaal van Krygkor in Suid-Afrika, te bekom om langafstand-missiele uit Libanon te kan teenstaan.
‘n Ingenieurstudent word deur die Isreal Intelligensiediens, (Mossad) gewerf, opgelei en as infiltrasie-agent na Suid-Afrika gestuur om die tegnologie te bekom.
Deurgaans word ou “tradecraft” beskryf, soos veral tydens die Koue Oorlog gebruik, om die agent op te lei in geheime kommunikasie, teen agtervolging, ens.
Die voormalige Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensiediens (NI) se Teenspioenasie kry snuf in die neus oor die student en begin die saak ondersoek.
Wolmarans het gaan kers opsteek by die voormalige NI se teenspioenasiespesialis, Michael Kennedy, wat ‘n meester op sy gebied was. Dit is dus heerlik realisties en spannend om te lees. Ek kan nie wag vir die opvolg Sekelmaan nie.





Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.