Hoe skryf mens? Hoe hou jy dit vol, dag na dag? Wat is jou tegniek om gedagtes op skerm te kry, te verfyn tot dit wat ons uiteindelik lees?

Woordfees

Saam met kollega Rudie van Rensburg op die verhoog by die 2019 Woordfees op Stellenbosch

Dié vrae het telkens opgekom tydens informele gesprekke en op die verhoog by die onlangse Stellenbosse Woordfees en die Klein Karoo Kunstefees in Oudtshoorn. Saam met dit, so dikwels die desperate ondertoon van iemand wat skietgoed soek om daardie groot idee te boekstaaf.

Ek moet my antwoorde altyd temper met die feit dat hulle waarskynlik die verkeerde mens vra. Na een gepubliseerde boek en ‘n paar kortverhale is ek die laaste mens wat jy hieroor moet uitvra. Ek kan jou die standaard-antwoorde gee van dissipline, jouself afsonder, en tevrede wees of jy een blad of tien blaaie in ‘n dag skryf. Ek het nie veel meer advies om te gee as wat ek uit duur ondervinding geleer het nie.

Wat ek wel oor my kort loopbaan  besef het, is dat my skryfwyse ‘n groot klomp van die blokkasies wat ‘n mens so tipies ervaar, probeer omseil. Ek volg die pad van minste weerstand, anders sal ek nooit klaarkom nie. Laat ek verduidelik.

My skryfwyse gebeur in drie lae. Amper soos verf, met net die hoeveelheid turpentyn wat tussen lae verskil. Ek het met BOS se skryf besef ek kan nie die storie, karakter-inkleding, nuanse en politoer gee alles op een slag klaarkry nie. Dis Godsonmoontlik. Vir my, in elk geval.

Die goue reël vir my, het dit baie gou geblyk, is om nie in die storie se pad te staan nie. Kry eers jou storie uit, spelfoute en al. Jy kan later loop regmaak as jy eers klaar is met die storie.

Eers toe ek dit besef het, kon ek vrede maak met die feit dat ek nie gelukkig was met die of daai paragraaf nie, dat ek onseker was oor die spelling van ‘n stad of wapen se kaliber. Ek het besef dat ek altyd ‘n paragraaf of woord in rooi of blou kon merk sodat ek later kon terugkom soontoe en die vryflap inlê.

Toe eers het dinge begin vlot.

In die takel van my jongste manuskrip het ek dieselfde tegniek gevolg. Skryf eers die storie. Laat die storie die pas dryf, die styl bepaal, die karakters wat nodig is, aantree vir ontplooiing in die verhaal. Dan, wanneer jy klaar is, end-uit is, die slot geskryf het, staan terug, drink ‘n dop. Rook iets. Maar staan weg van die werk sodat jy bietjie perspektief kan kry en weer mens word.

Dan, as jy jouself nou nie meer kan inhou nie, begin weer voor, lees deur, wees krities, begin skaaf aan hoe die mense in jou boek praat, wat hul mannerismes is, en kleur in met alles wat hul karakters sal help uitstaan.

Soms verander dit jou storielyn. Dis onvermydelik. ‘n Karakter doen wat ‘n karakter moet doen. Forseer jy hom by ‘n knap skoen in, gaan die leser dit sien, en jou geloofwaardigheid ly daaronder.

Na ek gelukkig(er) is met die karakterisering, begin ek weer voor, en let op na die beskrywing van plekke, geluide, kleure, uitdrukkings.

Dis vir my ‘n derde dimensie van diepte gee aan die verhaal. Ek probeer so fyn observeer en weergee wat ek sien of ervaar dat dit hopelik die leser midde-in die verhaal sal plaas, met dieselfde emosies en reaksies as wat ek gehad het.

As dit werk, dan’s ek eers gelukkig. En genadiglik het heelwat mense by die onderskeie boek-optredes presies dit gesê – dat hulle kon hoor en voel hoe Tex/Carlos deur die bos beweeg. Dit is die grootste kompliment wat ‘n mens kan kry.

Ek is seker daar is meer begaafde skrywers wat hierdie soos inkleding sommer met een hou kan pleeg. Ek is ongelukkig nie een van hulle nie. Ek het tyd nodig om my karakters te leer ken, hulle persoonlikhede aan te trek, in my kop te luister en te hoor hulle praat sodat ek dit in die dialoog kan uitbeeld.

Ek het ook tyd nodig om ‘n omgewing visueel te skep en te beskryf, sonder om onnodig spasie te mors, omdat soveel van my tonele gebiedspesifiek is, soos die gevegstonele, die posisie van deure en vensters en trappe en skietvelde vir taktiese bewegings. Dit help my om die beperkings op taktiese opsies te verbeeld, sodat my leser weet dat my karakter regtig in die moeilikheid is, sonder opsies is. Want dit help die spanningslyn onderliggend bou – die leser se wete dat hul held nou sal moet plan sien.

Ek hoop die moeite is dit werd, dat alles wat ek lagie vir lagie inkleur, help om ‘n prentjie in die leser se kop te vorm, en ‘n sterk, oortuigende agtergrond vir die storie te skep. Die leser se verbeelding is uiteraard ‘n mens se beste vriend.