“Die oorlog tussen vriende is erger as die oorlog teen ons vyande.” Profetiese woorde, in die laat tagtigs, uit die mond van die Israeli-weermag se generaal-majoor Yona Efrat aan sy jarelange vriend, genl. Magnus Malan.
Die omstandighede van hul gesprek was aansienlik minder broederlik. Suid-Afrika en Israel was bitterlik aan die stoei. Oor geld. Net nog ‘n feit wat dit weens spasieprobleme nie in die teks van Donkermaan gemaak het nie.
Dit was, inderwaarheid, die hele rede vir die diefstal-storie in die boek. Ek het kortweg daarna verwys in een van die hoofstukke, maar dit het geforseer en oordadig gevoel. Toe verkort ek dit tot ‘n enkele sin.
Ter wille van ‘n meer gedetailleerde ontknoping van die onderliggende beweegredes vir Grossman en kie se diefstal van Fynkyk, hier is die agtergrond:
Teen 1988 het Israel nie geld gehad om militêre toerusting van die SAW aan te koop nie. Om die waarheid te sê, die land was in finansiële moeilikheid nadat ‘n transaksie om ‘n bestelling Lavi-stralers die vorige jaar deur die mat geval het. Daardie ongelukkie is die volgende jaar herstel, toe die land ‘n geheime en ongeverwagte hupstoot gekry het – ‘n uitvoerkontrak van $1,7 miljard vir 60 Kfir-aanvalsvliegtuie aan Suid-Afrika in ‘n tyd toe die wêreld die land stof laat vreet het met ekonomiese en militêre sanksies.

Die Kfirs is in Suid-Afrika opgradeer met Franse enjins en Mirage III-vliegtuigrame, en herdoop tot die Cheetah. Die program was ‘n lewensredder vir albei partye: ‘n ekonomiese inspuiting vir Israel, en ‘n versterking van die SAW se Grensoorlog-vermoëns in ‘n tyd toe hy ‘n ompad verby internasionale sanksies nodig gehad het.
‘n Volmaakte, ewewigtige transaksie. Hoe kon dit skeefloop? Gierigheid.
Efrat en Malan het saam studeer aan Fort Leavenworth in die VSA in 1962. Die twee het kontak behou, en was waarskynlik midde-in die transaksie om die Cheetah se geboorte.
Israel was gretig dat Suid-Afrika nóg militêre toerusting koop. Pretoria het ingestem, maar het nou ‘n teenprestasie van die Israeli’s verwag. Die plaaslike verdedigingsbedryf het op gelyke waarde aangedring.
Na jare van agterstand onder sanksies het die Suid-Afrikaners se vindingrykheid en ingenieursvernuf tot verskeie tegnologiese deurbrake gelei. Ons is nie meer bedelaars nie. Ons fabrieke kán, was Malan se boodskap aan die destydse Israeli-verdedigingsminister, Moshe Arens. Wees nou ‘n pêl en koop ook so ‘n iets van ons tegnologie in ruil vir die Kfir-kontrak. Soos ‘n telefoonsentrale wat deur ons tegnici ontwerp en gebou is. Om die waarheid te sê, die Kfir-transaksie berus daarop, het Malan hard geskimp.

Arens het die situasie probeer vermy. Daar was sekere standaarde vir ‘n PABX-stelsel, het hy met ‘n skouerophaal laat weet. En Israel het dan nou klaar ‘n ander kontrak toegeken …
Genl. Malan het blykbaar met moeite beleefd gebly. “Ons het meer as ‘n miljard dollar by julle bestee. Julle het minder as $10 miljoen by ons gekoop.” Genoeg. Daar was bitter woorde. PW Botha, soos ek verstaan, was selfs minder gelukkig, en het opdrag gegee dat die krane toegedraai word na die Kfir/Mirage-program se voltooiing.
Ek kon my PW se tirade voorstel. Gewonder hoe dit ontvang sou geword het in Tel Aviv, die konsternasie wat dit sou veroorsaak het. Daardie bitterheid het my bygebly toe ek met die navorsing vir Donkermaan begin het. En net daar het die begin van Donkermaan gelê.
Motief, geleentheid, bitter bekke en bedonnerde politici. Alles wat jy nodig het vir ‘n internasionale insident.





Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.