Van Annchen Conradie se Uit die Perd se Bek-blad op Facebook. Sy skryf:

Nota vooraf: Hierdie is nie ʼn resensie nie; eerder ʼn poging om ʼn leeservaring in persoonlike terme te verwoord.

My ma was ‘n groot liefhebber van politieke spioenasierillers, veral as die dit in die ruimte van die Koue Oorlog afgespeel het. Ek het baie meer van spoke en monsters gehou, maar ons het nietemin raakpunte in David Morrell en Daniel Easterman gevind. “Rambo/First Blood” was waarskynlik die bekendste, maar dis Morrell se Mortalis-trilogie wat vandag nog onder my gunstelinge is. Die opleiding van Chris en Saul deur die enigmatiese Elliot was fassinerend en ek het myself betrap dat ek self spioen-spioen begin speel het wanneer ek mense op straat dopgehou het. Dis hoe realisties dit was. Easterman se uitbeelding van konflik in die Midde Ooste, veral in The Seventh Sanctuary, het my eweneens betower, en die roman het dekades later steeds ‘n ereplek op my rak.

Vir almal wat wonder wat dit met die huidige roman te doen het, byt vas, ek sal nou verduidelik.

Ek het nog altyd Jaco Wolmarans se romans geniet. Skag, Bos, Ivoor, Dolos – almal uitstekende politieke Afrika-rillers met ‘n goeie dosis testosteroon en aksie. Toe kom Donkermaan – en slaan my voete onder my uit. Vir die eerste keer sedert Morrell en Easterman, lees ek ‘n roman wat die beste van beide kombineer en dit boonop met ‘n Suid-Afrikaanse geur.

Dis 1990, die tyd van faksmasjiene, DOS, stiffies, mixtapes, en landlyne. Israel word bedreig deur Hezbollah se langafstand-missiele. In Suid-Afrika word ‘n konsep ontwikkel wat hulle dringend benodig: radarversteuringstegnologie. Maar dis nie te koop nie.

Die protagonis, Ruth Heyns, is die menslike weergawe van Istanboel en staan met haar twee voete in twee lande. Haar pa, ‘n Israeli, is voor haar oë doodgeskiet tydens ‘n aanval naby die Israeli-Libanese grens, en haar ma, ‘n Suid-Afrikaner, het na haar geboorteland teruggekeer. Ruth, nou ‘n student, het in Israel agtergebly. Mossad benodig ‘n infiltrasie-agent in Suid-Afrika. Ruth is die gelukkige (?) wenner. Wat nie te koop is nie, moet gesteel word.

Ruth se opleiding deur Saul Grossman herinner aan die van Morrell se Elliot. In beide gevalle is die hulp van moderne tegnologie uiters beperk en die fokus is derhalwe op innoverende denke en die aanleer van waarnemingstegnieke; ‘n leek moet bykans oornag vernuftighede aanleer en die leser word eweneens ‘n leerder: “Sy het haar eie stelsel begin ontwikkel, haar omgewing as ‘n bewegende kokon om haar gevisualiseer. Alles binne die kokon wat saam met haar bly rigting hou, is onder verdenking.” (54) Anders as byvoorbeeld Hurwitz se Orphan X, word sy nie oornag ‘n superheld nie, sy bly immers jonk, onervare en relatief onvoorbereid: “Sy’s bang vir wat kom. Na alles, haar opleiding en Grossman se voorbereiding, was sy bang. “ (113)

Die spanningslyn word behou deur die gebruik van kort hoofstukke en ekonomiese woordgebruik. ‘n Scenario word in enkele woorde volledig geskets, as voorbeelde Ruth se aankoms op D.F. Malan-lughawe: “Plesier. Kan hy haar tas dra? Dankie. Hy vat dit by haar.” (121) en die treffende openingsin wat die hitte op die middaguur beskryf: “Die woestyn swem onderstebo, ‘n meter bo die grond.” (7)

As ‘n leser wil hare kloof, is daar twee punte waarop kritiek gelewer kan word: Volgens die agterplat speel die roman in 1991 af, maar die teks verwys deurgaans na 1990, en op bladsy 190, verander ‘n se ete van gedaante: “Stefan wil ‘n burger hê” maar word dan gevolg deur “Sy steak is nog halfpad toe sy haar bord terugstoot.”

Onthou egter dat ek gewaarsku het dat hierdie nie ‘n resensie is nie, so ek matig myself die reg aan om moontlike verduidelikings hiervoor aan te bied: Eerstens het Stefan dalk ‘n steak burger bestel, en tweedens vervolg Donkermaan in Sekelmaan, so 1991 is inderdaad op die horison.

Verskoon my nou asseblief; ek gaan die poskoets inwag. Hopelik is Sekelmaan binnekort hier.

#Uitdieperdsebek https://www.facebook.com/anschen.conradie