Anschen Conradie se indrukke oor die tweede boek in die Heyns-saga, Sekelmaan:

Donkermaan (Tafelberg, 2025) was die verhaal van Ruth, Sekelmaan, in breë terme ‘n opvolg, tel die drade op in die hede, drie dekades na sy voorganger, en fokus op Ruby, Ruth se dogter.

Ruby is ‘n Suid-Afrikaner met Joodse wortels, ‘n verslaggewer vir Reuters. ‘n Groep jong Suid-Afrikaners wat beplan om, onder die dekmantel van die bywoning van ‘n muurbaltoernooi in Kaïro, wederregtelik by die Joodse weermag aan te sluit, verskyn op haar radar en word die sneller wat dreig om die magsbalans in die Midde Ooste te versteur.

In Suid-Afrika is Reuben Kruger is ‘n onwaarskynlike held; ‘n sosiaal onbeholpe seilplankryer in diens van Staatsekuriteit: “…hy huiwer op die rand van die outismespektrum, met die vermoë om skakels en versteurings van patrone te sien waar ander bloot na data staar” (30). In Israel lig ‘n skim uit Ruth se verlede sy kop: Saul Grossman, haar voormalige Mossad-hanteerder, nou gefokus op die opsporing van Al-Masri, die argitek van die nagmerrie wat op Oktober 2024 gevolg het, en bereid om enige offer op die altaar te plaas in die proses: “My Here, Saul, jy is harteloos.” (77)

Die roman is in drie dele verdeel. Die eerste, Volmaan, dek die tafel vir die klimaks waarna onvermydelik opgebou word. Die leser het insae in die beplanning en denke van die meerderheid karakters, ook die antagoniste, en die hoofstukke wissel ten opsigte van perspektiewe en ruimtes. Die plofbaarheid van die situasie word duidelik gemaak wanneer die effek van ‘n Hellfire evokatief beskryf word as “Ses sekondes later flits die skerm voor hulle. ‘n Vuurbal , dan stof en tuimelende steenwerk sigbaar” en die gruweltoneel in skrille kontras met die nonchalante reaksie van die betrokke beampte gestel word: “Hy stoot sy stoel terug, strek sy stram rug. Sy werk is klaar vir die nag. Hy gaap weer. “Ek gaan koffie kry”, sê hy en stap uit.” (13)

Deel 2, Halfmaan, neem die leser terug na Israel, 2012, en ontbloot die subtiele spel van misleiding wat die eerste deel uiters vernuftig gespeel het. Deel 3, Sekelmaan, volg met ‘n dreigende openbare teregstelling, die leser nou terdeë bewus van die wesenlikheid van die gevaar en die potensiële internasionale impak daarvan. Die gewetenloosheid van die aangewese laksman word, soos met die Hellfire-scenario, beklemtoon deur middel van koelbloedige kontraste in sy denkpatroon: “Hy het sy instruksies. Ramadaan se sebri-sekelmaan verskyn more-oggend om 4:53, ‘n gepaste tyd vir ‘n openbare onthoofding. Op kamera. In die Kangoo sit hy ‘n paar oomblikke voor hy aanskakel en tob oor ‘n gewigtige besluit: hoender of tjips eerste?” (337)

Sekelmaan, soos Donkermaan, slaag daarin om die tragedie en kompleksiteit van die konflik in die Midde Ooste met sobere uitkyke en realistiese waarskynlikhede in ‘n spioenasieroman van formaat te omskep. Die fiktiewe gebeure, soos die werklikheid, skets ‘n veelkoppige monster met tentakels in die alledaagse, verby tyd en grense.