SKAG het byna nooit die lig gesien nie. Daar was ‘n hartstoppende oomblik in die winter van 2018 toe ek soos ‘n karakter uit een van my verhale begin voel het – ‘n inbraak onder hoogs verdagte omstandighede wat my sonder rekenaar (en pas voltooide manuskrip)  gelaat het.

Ek het sesuur die oggend by my kantoor ingestap en onmiddellik die bries gevoel. Die venster was oop. Wel, nie soseer oop as nie meer daar nie. Die glas is volgens ‘n sekerheidsman professioneel verwyder. En die volle 27 duim van my iMac-rekenaar is deur daardie klein opening, terwyl die alarm aangeskakel was, en die rekenaar direk onder die infrarooi-oog gestaan het.

Dis Godsonmoonlik. Ek het die alarm hoevele kere self afgesit. Per ongeluk. Hoe kom jy in, klop die oog, hanteer die ongemaklikste stuk rekenaartoerusting ooit gebou en vat dit deur ‘n klein venstertjie uit sonder om die alarm af te sit?

Dit terwyl ‘n kis met ‘n duur kamera reg langsaan onaangeraak gelaat word?

Niks verder in my kantoor is gevat nie. Nie die duur beligtingstelle wat orals rondgestaan het nie. Ook nie mikrofone, oorfone of ander videotoerusting wat soos gewoonlik my kantoor besaai nie.

Ek kon nie help om te dink aan Jacques Pauw se storie oor hoe sy skootrekenaars gesteel is kort voor The President’s Keepers verskyn het. Hy blameer Staatsveiligheid.

My gedagtes het teruggegaan na die navorsing wat ek gedoen het, die vele e-posse tussen my en kern-fisici, die dokumente aangestuur, een nogal met die titel “The parts of a nuclear bomb”. As iemand my toenemend interessante e-posgesprekke dopgehou het, sou hierdie dokument waarskynlik elke moontlike alarm by die owerhede laat afgaan het. Daar was vele van hierdie soort dokumente, met sketse, diagramme en foto’s van bom-onderdele. Ek moes immers ‘n goeie begrip kry van die werkinge van ‘n kernbom, en my bronne was rojaal met hul kennis deel.

Beide my bronne was afgetree, maar kon bekendes op een of ander dophou-lys gewees het. Ook ‘n ander bron, uit die dae van die Apartheid-regering se teenspioenasie-dae, het vele kere op vrae geantwoord. Die Wet op Staatsgeheime het hom daarvan weerhou om werklik sensitiewe dinge uit te lap, maar hy het geantwoord sover hy kon.

Die vraag was, hoekom die rekenaar steel as jy net my e-pos elektronies kon dophou, van buite af? Dit het nie sin gemaak nie. En ek was beslis nie lus om ‘n karakter in een van my eie verhale te word nie.

SKAG, pas klaar geskryf, letterlik twee dae tevore, is by daardie venster uit. Daar’s niks in hiedie wêreld wat jou op daardie skok kan voorberei nie. Die selfverwyt, die paniek, die woede, die magteloosheid. Dit het ‘n volle uur gevat voor ek eers sover kon kom om koffie te maak, asem te haal en te gaan sit voor my leë lessenaar. Die hele manuskrip, meer as ‘n jaar se werk, weg. Saam met elke dokument wat ek in die afgelope dekade genereer het. My belastingvorms, my boekhouding, my rekeninge aan kliënte. Skoonveld.

Langs die opvallend leë staanplek met sy nes van kabels, die drukstuk van die manuskrip darem, wat ek oor die naweek laat maak het. Daar was nie ‘n manier waarop ek dit self weer sou oortik nie. En daar is reeds verskeie veranderinge aan die manuskrip aangebring sedert ek dit gedruk het. Maar dit was minstens daar.

Na die koffie, daardie oggend, en die effense kalmeer nadat die sekuriteitsmaatskappy kom inloer het en die Polisie gebel is, het ek begin  lessenaar skoonmaak. En daar lê die duimskyf, uitgetrek en onder die kabels versteek. Ek was nog nooit so bly om daardie rooi stokkie te sien nie.

Verdere navrae oor die moontlikheid dat my kommunikasie dalk gemonitor wys, het op niks uitgeloop nie. My inligtingsbron het my gerus gestel – daar was ‘n sindikaat wat net rekenaars steel, op aanvraag. Jou spesifieke model was waarskynlik op iemand se inkopielys, het hy gesê.

Skrale troos, ja. En hopelik, waarskynlik, waar, en onderstreep dalk deur die feit dat ek twee mans ‘n paar weke later drie-uur die oggend buite my venster betrap en verwilder het. Iemand wat dalk die vervangingsmodel op ‘n inkopielys gehad het?

Genadiglik het die boek dit tot by die drukkers gemaak. Lees gerus ‘n resensie van SKAG wat in Die Burger verskyn het hier:

https://www.pressreader.com/south-africa/die-burger/20200302/281771336233752?fbclid=IwAR1pcqvzgRZftr6c5cvvA1CI-uNvRltCG4JhH_YYX1aLB08Jx4LbTRzwFqc

Bestel en laat aflewer:

https://www.loot.co.za/product/jaco-wolmarans-skag/dmsp-6801-g0a0