Seker een van die vrae wat lesers die meeste vra. Wat kom eerste – die woord of die beelde?

In my geval arriveer hulle dikwels gelyk. Ek skryf nie sonder ‘n prentjie nie. Of liewer, ek vind dit moeilik om ‘n denkbeeldige omgewing te beskryf. En dit gaan nie oor ‘n gebrek aan verbeelding nie. Dit het ek by die kruiwavragte.

Die rede hiervoor is waarskynlik my beheptheid met realiteit. Dis gewoon makliker om ‘n realistiese aksie-toneel binne ‘n bekende omgewing te laat afspeel. Bloot omdat die werklike grootte, die aantal en posisies van vensters en deure in ‘n vertrek die moontlikheid van enige taktiese beweging in daardie omgewing bepaal. En selfs beperk.

Oor tyd het hierdie beheptheid met realiteit ‘n obsessie geword. Voor ek ‘n toneel aanpak, soek ek visuele verwysings. Google Earth, foto’s, sketse – enige iets wat ‘n werklike prentjie van ‘n werklike toneel sal gee waarbinne ek my verhaal kan laat afspeel.

Google Earth is daarom ‘n groot vriend. Ek kyk na elke plek waar ek ‘n toneel wil laat afspeel. Of soek een. Wikipedia weer het dikwels foto’s van obskure plekke soos die beheerkamers van kernaanlegte, ondergrondse bomskuilings, die brug van ‘n duikboot. Dié visuele verwysings is van onskatbare waarde in die skryfproses.

In sommige gevalle dikteer dit ook die verloop van ‘n verhaal. Heeltemal teen my beplanning in. ‘n Voorbeeld:

In BOS het ek beplan om my karakters op ‘n moordende staptog oor die grens na Mosambiek te stuur. Ek het dit haarfyn beplan – ‘n roete tussen die plaaslike bevolking se gehuggies deur, om koppies, deur valleie en riviere. Maar iets het begin pla. Hoe lank sou dit neem as jy dit werklik ongesiens wou doen? Hoeveel tyd het jy nodig om al die bewoonde gebiede te vermy? Hoe warm sou dit wees? Muskiete, slange, poachers? Hoe gevaarlik sou dit regtig wees om ‘n land se grens te voet oor te steek, swaar gelaai onder wapens?

Ek het gaan raad vra.

“Vergeet van instap,” was die onomwonde mening van ‘n voormalige spesiale magte-operateur.

“Die honde sou jou binne die eerste paar kilometer al weggegee het. Ons sou die operators eerder met ‘n chopper invat. Vinnig en laag.”

En daar sink die hele epiese instap. Die realiteit van wat twintig kilometer se voetslaan deur “vyandelike” gebied behels, het die hele storie verander. Dit het ook gelei tot die insluiting van ‘n nuwe karakter, Jan Botes, die vlieënier wat ek noodgedwonge moes skep, en wat uiteindelik ‘n sentrale rol in die boek sou speel.

In SKAG, wat grootliks op see afspeel, was ek totaal op die agtervoet. My Google-tegniek het beperkte resultate gelewer – prentjies, ja, maar die gevoel van ‘n skip se binnekant het my bly ontglip. Eers toe ek toegang tot ‘n Filipynse skip kon kry en saam met die eerste offisier kon rondloop, het ek ‘n genoegsame gevoel vir die maritieme omgewing gekry.

Dit was nodig, want in SKAG speel menige van die aksietonele op see af. Ek het die arme Jos Fourie telkens in die moeilikheid gehad en moes ek my held weer daaruit skryf. Daarvoor het ek werklike kennis van beweegspasie op ‘n skip nodig gehad om die aksie realisties te hou.

Dit het my forseer om ordentlik navorsing te doen – nie net oor hoe die omgewing lyk nie, maar hoe jy byvoorbeeld ‘n pistool by iemand afvat sonder om self geskiet te word. Die Israelis leer hul soldate die Krav Maga-gevegskuns, met as ‘n sentrale kenmerk om so gou moontlik teenaan die opponent te kom, die pistool-hand en arm onder ‘n blad vas te klem en dan met ‘n buig van die pols die vyand te ontwapen.

Dit lyk maklik. Tot ek dit self probeer het. Dis verbluffend moeilik, maar mettertyd leer jy die motoriese vaardigheid deur herhaling. Jos sou daarom dié vaardigheid kon erf, maar slegs indien hy naby genoeg aan sy opponent kon kom.

Hiervoor was my vertrekpunt weer ‘n visuele prentjie van die beperkte spasie op die Vesta se brug. Na my besoek aan die Fillipynse vaartuig het ek geweet Jos se teenstander sou weens die tipiese spasiebeperking waarskynlik binne armlengte van hom moes staan. Beknop genoeg vir ‘n Krav Maga-aanval. Weer eens dikteer die werklike spasie hoe realisties die aksie sou wees. En Jos kon nog ‘n dag oorleef.

Ek vind hierdie tegniek raak toenemend ‘n kruk vir my skryfwerk en beplanning. Dit bespoedig die proses, gee dit ‘n bekende dimensie en daardeur, hopelik, verhoog dit die geloofwaardigheid van die verhaal.

Wat my nou laat besef dis dalk beter dat ek nooit fantasieverhale probeer skryf nie.

Kry SKAG hier:

Kry BOS hier: