Wat sou gebeur as ‘n ander skrywer een van jou karakters beetkry? Hoe sou sulke karakters onder daardie verfkwas uitkom? Met die verskyning van Dolos en sy Mosambiek-gedrewe storie, en die vele oorvleuelings van Dolos met Dibi Breytenbach se spanningsroman Buit, het ek en Dibi in twee kortverhale ons karakters geruil. Die resultaat was verassend.

Die idee was dié van die skrywer en resensent Stefaans Coetzee. Julle skryf oor dieselfde mense, het hy gesê. Laat hulle ontmoet. Kyk waarheen dit lei.

Vir die rekord: ons het geen invloed op mekaar se kortverhale gehad nie. Bloot afgespreek op wanneer dit sou afspeel.

My verhaal speel af aan die einde van Dolos. Tex en Helena is by die lughawe in Palma, wagtend op hul vlug terug na Suid-Afrika, wanneer Helena iemand agterdogtig opmerk wat Tex dophou. Dolos se drama is duidelik nog nie verby nie. Domingos, Dibi se karakter, vleg homself terstond in die storie in.

Dibi weer beskryf ‘n Angolese operasie uit die tagtigers wat lelik vir Tex, Carlos, Domingos en Markus skeefloop. Die groep bombshell. Tex en Domingos beland saam en vlug onder skoot van beneukte Angolese magte. Die twee spandeer genoeg tyd in mekaar se geselskap om Tex se karakter uit ‘n ander hoek te belig. Ook Carlos se meer kritiese kant. Carlos, soos die lesers sal onthou, is nie ‘n man van baie woorde nie. Hier spoel hy sy bek so ‘n bietjie uit. Eina.

Dibi het Tex vir my skerper in fokus gebring. Jonger, meer voortvarend as wat ek hom beskou het. Selfs harder, meer gritty en paraat. Ek het hom juis weggeskryf van die Andy McNab-tipe karakter belaai met magasyne en nie skaam om te skiet nie. Kleinspan-operasies was destyds hoogs geheim, donker, die operateurs ongesiens in en uit. Vuurgevegte was ongewoon en hoogs vermybaar, uit die klandestiene aard van hul werk.

Tog, die operateurs was ten volle opgelei om hul pad oop te skiet as dit moet, maar weghol en verdwyn was in sulke omstandighede die eerste keuse bloot omdat hulle net gewoon nie genoeg ammunisie kon saamdra nie.

Kortom, dit was goed om uit Dibi se oogpunt te sien dat Tex na homself kon kyk. En dat Carlos nóg sterker uit die verf kom as die hardgebakte, stuurs maar ultra-bekwame operateur wat ek in my kop geskep het. Dis waardevol, want dit bring ‘n besonderse insig bring in hoe lesers jou karakters aanvaar. Waar ek Tex effe te kort laat skiet het, het Dibi my gewys hy is meer as kapabel om na homself te kan omsien.

Dibi skryf weer só oor haar ervaring van die oefening:

“Die oorvleueling tussen Dolos en Buit is merkwaardig in meer opsigte as een. Behalwe vir die feit dat dit ons karakters in ‘n baie spesifieke – en eksotiese – historiese konteks plaas, het die navorsing ons groter insig in die wese van spesiale magte operateurs gegee en ook geleer hoe klein die operateurswêreld is.

“Dit was derhalwe nie moeilik om vir Markus, Domingos, Tex en Carlos saam in ‘n denkbeeldige Grensoorlog sabotasie-operasie te plaas nie. Dat hulle mekaar destyds sou ken, is nie net moontlik nie, maar ook waarskynlik.

“Wat Jaco se storie so interessant maak, is dat hy dit in die hedendaagse konteks plaas van gewese operateurs wat die privaat militêre kontrakteurswêreld betree het. Om Domingos deur sy oë te sien, is ‘n openbaring. Domingos het homself aan my openbaar as ‘n boesemvriend en vertroueling van Markus Gerlach.

“Jaco belig sy lojaliteit, sy doelgerigtheid en fokus, maar tog ook ‘n sagter kant wat ek nie eens besef het hy het nie.”

Dibi se kortverhaal is hier op Litnet gepubliseer: https://www.litnet.co.za/more-is-nog-n-dag/

My verhaal volg hare, hier: https://www.litnet.co.za/net-handbagasie/