Een van die eerste dinge wat mense jou altyd vra, is “Waar het jy op hierdie storie gekom”?

Dis gewoonlik ‘n fout. ‘n Lang een. Want, kyk, ek KAN praat. Veral as dit oor stories gaan.

BOS het begin op ‘n vlug Mosambiek toe. Op ORT snuffel ek vir leesstof vir die vlug, en koop Koos Stadler se uitstekende boek RECCE, wat ek vasgenael op die vlug lees. Ek sit dit traag eenkant om te begin werk in Maputo, waar ek ‘n outydse dhow in die hawe moet afneem. Dis eksoties, iets reguit uit die jare tagtig … En net daar slaan die idee my – hoe kry ek Koos se recce-spanne hier, in ‘n avontuurverhaal?

Die antwoord is, tragies, met renosterstropery.

Maar kom ek gee eers ‘n tree terug. Hierdie storie is die verhaal van twee Recces, Carlos (die Angolees), en Tex (Portugees-sprekende Afrikaner). Hulle is deel ‘n regiment wat tweemanspanne spesifiek opgelei het vir die baie gevaarlike pseudo-operasies wat in die jare tagtig uit die suide van Angola van stapel gestuur is.

Die operateurs van 5 Recce het dit uitgevoer – in die vyand se klere, met die vyand se wapens, in die vyand se gebied. Baie keer helder oordag. Wat beteken jy was ‘n mooi teiken vir vriend én vyand, as jy gewaar is.

Die rede vir die operasies was die insypeling van Swapo-insurgente uit Angola na die ou SWA. Dit was feitlik ongekeerd, en die Swapo-lede het wyd steun onder die plaaslike bevolking in Suidwes gehad. Die Recces is daarom in Angola ontplooi naby Swapo se tydelike basisse, waar hulle soms vir weke opgelê het en die troepe se bewegings dopgehou het. Wanneer Swapo suid na die grens toe beweeg het, is die  pseudo-operateurs stilweg agterna, maar het die gevaar geloop om deur eie magte geskiet te word, of deur die plaaslike bevolking verklap te word aan die insurgente.

In BOS word die jong Tex toegedeel aan die geheimsinnige Carlos. Hy praat min, hy maak jou ongemaklik, hy’s nors. Maar hy ken sy storie. Tex moet aanpas, en in die proses, oor die jare van hul kleinspan-operasies, maak Carlos mettertyd oop oor sy tragiese verlede. Die twee hou daagliks mekaar se lewens in hul hande. Uiteraard raak hulle boesemvriende.

En jy sou dink jy leer iemand ken tot in sy diepste wese.

Maar met die onttrekking van SA magte uit SWA en die onafhanklikheidwording van Namibië, verdwyn Carlos. Heeltemal en totaal. Tex word ‘n veiligheidskontrakteur en doen VIP-beskerming, vat vrou en sy ou lewe vervaag. Tot dit binne ‘n enkele paar maande uitmekaargeruk word – eers sy vrou se sinnelose skietdood in ‘n parkeerterrein, dan die wete dat iemand hom dophou.

Die oë op hom is dié van Militêre Intelligensie, wat hom nader om hulp. Dis Carlos. Hy is in Mosambiek, nou ‘n gevreesde poacher boss, genaamd Kalingono. En die lyke stapel op. Kan Tex hulle help om hom uit te haal? Op enige manier.

Dit laat Tex in ‘n geweldige tweestryd. (1) Dis nie die Carlos wat hy ken nie. (2) Hy was jarelaas operasioneel. (3) Soos hy Carlos ken, het die operasie geen kans op sukses nie, en (4) sy kop is by die ontsyfering en sin maak van sy vrou se dood.

Dis nie ‘n goeie tyd nie.

Tog oorreed MI se groenoog-agent, Helen, hom om spanleier te wees, ‘n groepie operateurs in die bos te gaan oplei vir die missie, en Carlos te gaan uithaal. Niemand anders gaan naby aan hom kan kom nie, reken sy. Hy sal weet jy kom, en dis waarop ons staatmaak – dat jy minstens by hom sal uitkom.

‘n Dhow in die hawe van Maputo

Dan breek die maanlose nag van die operasie aan, en Tex en sy span glip Mosambiek binne. En dis waar dinge begin skeefloop. Uiteraard gaan ek nie die verhaal verder verklap nie, maar Tex en sy vriende maak ‘n draai in my Maputo-hawe, in ‘n dhow, waar die vuurwerke regtig begin.

Maak jou reg vir ‘n huppelstap van ‘n storie. Dit deel met verraad, met vertwyfeling van selfkennis, met die verlies van lewensmaats. En ja, ook met nuwe liefde.

Die pas is dik, die storie glip tussen Angolese terugflitse en Mosambiekse helikopter-ongelukke, verraad in inligtingskringe en korrupsie op die hoogste vlakke wat jou ongemaklik naby aan ons huidige landsituasie gaan bring. En dan ‘n redelike plofbare einde van koue staal teen kele, donderstorms en ‘n geveg in ‘n township wat my nou nog rillings gee. Want dis gegrond op ‘n persoonlike ervaring.

Maar meer daaroor later.

Jaco Wolmarans