Die moeilikste van BOS se skepping was om my werklik in te leef in die wêreld van die pseudo-operateurs, en om met soveel oortuiging moontlik daaroor te skryf.
En laat ek dit sommer van meet af aan duidelik maak: ek was nooit ‘n Recce nie. Ek het geen illusies oor my fisieke en sielkundige vermoëns nie, en ek het geen twyfel dat ek halfpad sou tou opgegooi het as ek ooit die opleiding moes deurgaan nie. Nee, dit was vir mense ver bokant my posgraad.
Maar hoe gemaak as jy daaroor moet of wil skryf?
Jy’t nie veel keuses nie. Jy lees soveel jy kan, en jy krap tot jy iemand kry wat die ontbrekende elemente kan invul. In my geval, hoe dit regtig in die bos was: die sensasie van die alleenheid, in die nag, te midde van soveel gevaar. Hoe voel dit? Wat voel jy, wat hoor en ruik jy?
Ek is bevoorreg om ‘n paar manne te ken wat daar was en bereid was om te praat. Hulle verkies om anoniem te bly, tot hierdie dag toe. Een, en kom ons noem hom maar Bossie, was hierin behulpsaam. Die storie van die kobra aan die begin van die boek kom van hom. Dis nie duimsuig nie. Kobras jag (ook) snags, het ek tot my verbasing uitgevind. Daarom is die openingstoneel in die boek ‘n baie waarskynlike scenario. En inderdaad ‘n nagmerrie vir enige operateur wat te alle koste in vyandelike gebied onopgemerk moes bly.
Bossie se oorheersende herinnering van daardie nagtelike rondsluip (en die daaglikse oplê tot laaste lig) was die honde. Ewige honde, wat jou ‘n myle ver kon hoor. Of ruik. En dan blaf, jou posisie weggee. Baie operasies is blykbaar so gekompromiteer. Die manne moes maar rugsak vat en hol. ‘n Vuurgeveg was gewoon buite die kwessie.
Koos Stadler skryf in sy boek RECCE juis daaroor, die frustrasie van geblaasde operasies, en hoe hulle soms maar moes tekkie uitpak met die Angolese kort op hul hakke. Met 30-40kg op die rug was dit nie speletjies nie.
Ek het Koos in Saudi opgespoor, en hom per e-pos probeer pols oor sy eie ervaring, oor dit wat nie tussen die lyne van sy boek te lese was nie, sodat ek daarmee die gapings in my storie kon vul in kleur, geur en reuk.
Soos ek verwag het, was hy nie besonder spraaksaam nie. Geantwoord in kort sinne. Maar selfs dit het veel meer gesê het as wat Koos waarskynlik gemeen het. My blywende indruk was dié van ‘n uiters bekwame mens, ‘n planmaker, stil en dodelik doeltreffend. Nie ‘n prater nie.
Die leser sal hierdie eienskappe in beide Tex en Carlos herken. Hoewel die twee nie uitsluitlik op hierdie karakter-eienskappe gegrond is nie, het ek mildelik staatgemaak op Koos se beskrywing van karakters uit sy dienstyd. Iewers, tussen al die manne wat saam met hom diens gedoen het, is ‘n Tex en ‘n Carlos.
Koos was so gaaf om ‘n paar foto’s aan te stuur van hom en ‘n kollega. Ek het lank na die twee gestaar. Probeer om daardie gelaatstrekke te lees, die emosie te bepaal. Moeg? Gatvol? Of reg om iemand te gaan rev? Ek kon nie besluit nie.
Met sy kriptiese opmerkings en albumfoto’s gewapen is ek terug na Koos se boek, dit weer met aandag gelees, gesoek na daardie leidrade wat dimensie kon gee aan die werklike bos-ervaring, en dit in woorde probeer oordra – die stilte, die broeiende gewag, die wete van onsigbare oë, die vrees, die fyn trap om krakende takke, blare en gras wat ritsel.
Ek het my eie karige taktiese opleiding van destydse militêre diensplig probeer herroep, om stil deur die bos te beweeg. Dronk beeste sou beter doen. Gaan probeer maar, kyk hoe ver jy kom voor bok of kat jou gewaar. Nou probeer jou indink dat daar werklike gevolge sou wees as jy ‘n tak (k)raaktrap. Dink hoe jy sou sweet, 100km oorkant die kaplyn in Angola, met jou voete die enigste weg uit as die paw-paw begin vlieg.
Wat jou net weer laat besef hoe bomenslik goed hierdie operateurs was. Hoe koelkop hulle moes wees onder druk, met die vyand soms letterlik binne reikafstand, almal snaarstyf gespan.
Dis wat ek in Bos probeer beskryf. Daardie onderdrukte vrees, die ongelooflike spanning, die totale afwesigheid van rugsteun. Jy en jou buddy, op jou eie. Die totale vertroue, die interafhanklikheid aan mekaar. Daarom ook die skok van buddy-verraad in die boek. Oeps. Spoil alert!
Ek hoop van harte ek kon hierdie mense en hul wêrelde naasteby akkuraat beskryf, die leser minstens ‘n vlietende indruk gee van die lewe in hul platsool-stewels. Uiteraard moes ek taktiek hier en daar aanpas om die storielyn te help. “Hollywood-ized”, soos my vrou sou sê.
Ek het gisteraand versigtig terugvoer by Bossie gesoek. Hy het die boek in ‘n naweek deurgelees. “Hoe erg was my beskrywing?”
“Nee – dit was nie te erg nie : dis ‘n storie en jou inkleur werk was baie goed! Onthou dat die boek vir almal geskryf is!”
Sjoe, verligting. Nogtans, as ek growwe afwykings van aanvaarde operasionele of klein-taktiek gepleeg het, vra ek nederig om verskoning.
Soos julle, moes ek maar plan maak.
Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.