Mense vra dikwels wanneer ek tyd kry om te skryf. Ek kry nie. Ek maak.

Inspirasie is ‘n ondier wat onmiddellik versadig wil word. Daarom gee ek hom vrye teuels. Waar ek my ook al bevind, indien tyd en plek dit toelaat.

Onder die kokerbome van Klein Pella

Om dié rede het ek al op snaakse plekke sit en skryf. Op vliegtuie, ja, maar dis maar alledaags.

Met jou rug teen ‘n kokerboom in die vlaktes om Pella is meer eksoties. Ek probeer jaarliks daar uitkom. Nie net om foto’s te neem nie. Dis veerkrag vir die visuele, ‘n absolute inspirasie vir die skeppendheid. Dis hier waar een van die tonele in my volgende boek afspeel, net so terloops.

Net so lekker is my trips na Zimbabwe. Hier is min kans om te skryf. Dis stowwerig en die afstande wat ons moet aflê om by ons werkplekke uit te kom, lank. Maar soms is ons gelukkig, en kry ‘n geleentheid in ‘n helikopter. Of ‘n korporatiewe vliegtuig, en dan moet jy wag vir die helikopter om jou te kom oppik. Daardie wag is goud. Ek plak my net daar neer en skryf met die stukkende vensters en gehawende gebou van die lughawe om my waar ons spesmagte destyds die plek omtrent platgeskiet het.

Gweru lughawe

Ons wag op vervoer by Gweru lughawe

Bewys van ‘n vorige oorlog. Gweru lughawe

Die vlieënier Paul Ireland, in die middel, saam met my gereëlde reismaat Johan Winterbach regs

Dit help die beskrywings, die realiteit van die tonele wat ek in my stories beskryf. Ek kan nie sommer ‘n gebou uit die kop uit opmaak nie. Ek sal veel eerder ‘n regte plek deurtrap, deursnuif, voel en vroetel om dit lewend te maak in my verbeelding. As dit nie dalk ‘n oksimoron is nie.

Dis op hierdie trips waar jy met mense saamwerk soos die helikoptervlieënier Paul Ireland, wat my in Bos gehelp het om die lugvaart-tegniese feite reg te kry, radioprosedure korrek te volg en ook die lap van ‘n gekweste helikopter te help bewerkstellig vir die doeleindes van die verhaal.

Of die Filipynse eerste offisier wat my in die Kaapstadse hawe op sy skip rondgewys het, die eetsalon, brug, die nou trappe en klein kajuite laat ervaar het sodat ek met meer selfvertroue daaroor in ‘n volgende boek kon skryf en my karakters se tyd op see kon uitbeeld.

Aan boord, Kaapstadse hawe

Ervarings soos hierdie laat plekke en omgewings lééf in jou gedagtes, maar daardie herinneringe vervaag ongelukkig wanneer jy met kameratasse, doeane en paspoorte moet stoei. Dis hoekom ek my rekenaar maar saamsleep wanneer ek kan. Of as dit nie gerieflik is nie, ek pen en papier gryp om ‘n reëltjie of sinnetjie wat begin hamer aan my bewussyn, vas te lê.

Daardie hamertjie begin dikwels teen 4:30 in die oggend met sy werk. Ek ignoreer hom nooit. Dit kos maar opstaan en skryf.