SKAG

In die jare tagtig beraam die Suid-Afrikaanse regering vindingryke planne  om wapens in weerwil van internasionale sanksies te bekom. Na die Helderberg by Mauritius in die see verdwyn, is skeepsvrag een van die enigste opsies, en 4 Recce se Jos Fourie word getaak om ‘n vrag missiele per skip na Walvisbaai te vergesel. Hy word inderhaas opgelei in teen-spioenasiemetodes, en na Duitsland gestuur om die Vesta op sy lang seereis te help beskerm.

Jos besef gou beide die CIA en KGB het waarskynlik oë op die vrag. En hy ontdek ‘n besending Uraan-235 aan boord – wapengehalte kernmateriaal waarvan die regering duidelik nie bewus is of gesanksioneer het nie.

Doen hy wat hy getaak is, en beskerm die vrag? Of volg hy sy instinkte – en werk saam met die CIA om die spoor van die uraan te volg?

Dinge loop skeef, en Jos moet alles uithaal om hom en die CIA se Ashley Ramirez veilig te hou teen ‘n verregse faksie van die Suid-Afrikaanse intelligensiediens – al die pad tot by ‘n geheimsinnige kern-toetsterrein in die Kalahari: die skag by Vastrap.

SKAG is gegrond op ‘n werklike voorval in die jare tagtig waarin die Deense vragskip die Pia Vesta in ‘n koverte operasie vir sanksie-omseiling gebruik is. En soos hulle sê, die waarheid is soms vreemder as fiksie …

SKAG is teen 17 Februarie in meeste boekwinkels.