Dit het ‘n derde manuskrip gekos voor die begrip van “visueel skryf”, ‘n kommentaar op my eersteling-boek, regtig begin sinmaak het. Dit was ‘n kompliment, maar die konsep was vir my nog altyd vreemd. Dis tog ‘n boek, nie ‘n draaiboek nie?

Met my derde manuskrip, pas voltooi, het ek myself in ‘n besonder moeilike toneel betrap dat ek die hele situasie, karakters, uitdrukkings, emosies eers visueel moes voorstel voor ek dit op skerm kon kry. Skuus, op die blad.

Jip, hy was reg.

Met die insig het ook ‘n erkenning van ‘n sekere frustrasie met my skryfproses gekom. Ek glo ek het net gewoon nog nie die vaardigheid bereik om my karakters net so, op plat papier, te laat leef nie. Karakters leef in ‘n 3D-wêreld. Hulle beweeg, vertrek gesigte in simpatie of ondeduld, rol hul oë om ‘n punt te maak. En juis hierin lê die frustrasie – die kuns om te wys, nie te sê nie.

“Show, don’t tell” is niks nuuts nie. Dis ‘n tegniek om van onnodige woorde ontslae te raak, die leser geleentheid gee om hom of haar in ‘n toneel te laat verdiep, nie net op die kantlyn te laat staan nie. In kort, ek het hierdie frustrerende behoefte om my stories só te skets dat die leser dieselfde prentjie in die kop as ek het. Noord is noord, links is links, die venster is twee meter weg.

Vir my is dit ‘n dissipline, die raamwerk waarin alle aksie, beweging, uitdrukking, selfs dialoog plaasvind.

Soms voel ek soos ‘n regisseur. Iemand wat driedimensionele uitvoering moet gee aan ‘n eendimensionele storie, karakters se dialoog moet skaaf, hul emosies in lyn moet kry met dit wat in die storie gebeur. Om dit te doen, moet jy weet hoe dit voel wat jy die karakters wil laat voel.

Dis moeilik. Ek’s geen akteur nie, ek het geen opleiding hoegenaamd in die kuns nie. Tog moet ek my op elke bladsy myself inleef in die karakter, sy  desperate hartklop onder vuur kan meemaak, kan klap met haar woede, of soen met die passie van albei se opmaak na ‘n stryery.

Dis seker hoe dit voel om vir ‘n verhoogrol te studeer. “Method acting,” as ek die term reg verstaan. Die vermoë om werklik die emosie van daardie oomblik te voel, al het jy nog nooit die soort verlies, ontbering, absolute angs of verligting van jou karakters beleef nie.

Soms kry ek dit reg, en soms bring dit ‘n traan wanneer ek die pyn daaragter regtig voel. Dis uitmergelend. Nie net om goeie en bose karakters se velle aan- en uit te trek nie, maar om telkens hul gevoelens so te deurlééf, regtig te voel wat hulle voel, sodat die reaksie, die voortspruitende emosie wat jy daarna neerpen, net so realisties vir die leser sou wees.

Wanneer ek uiteindelik van die manuskrip afstaan, is dit gewoonlik met groot verligting. Net om ‘n slag te kan asem skep.