Dis hier bo die duinstrate van die Kalahari waar die deksel uiteindelik op Suid-Afrika se kernbom-program gelig is. Deur ‘n enkele, geheimsinnige vliegtuig wat ‘n oënskynlik doellose patroon bo die rooi sandriwwe noord van Upington gevlieg en binne dae ‘n geskarrel in internasionale intelligensiekringe veroorsaak het.

SKAG vertel die gebeure hierna. Die gebeure wat dit voorafgegaan het, kon ek om tydlynredes nie by die manuskrip insluit nie. Dit is ‘n storie wat pragtig in dr. Nic von Wielligh se boek “Die Bom” vertel word – en wat verdien om hier weer verhaal te word.

Die storie begin laat op ‘n Sondagmiddag in 1977, op die plaas Vastrap in die Noord-Kalahari, meer as 100km noordoos van Upington.

Nic van Wielligh

Dr. Nic von Wielligh by die stoorplek van ‘n tagtigters-kernbom by Gerotek. Foto: Wikimedia Commons

Die plaas was op die oog af ‘n bombaan vir die Lugmag uit Bloemfontein se gereelde wapenskampe. Min mense het geweet dat dit ook die gekose terrein vir Suid-Afrika se eerste “koue” kern-toetsontploffing was.

Tegnici was maande reeds besig om die 216 meter-diep skag te sink. ‘n Boor met ‘n oormatig hoë toring het bo die grond uitgetroon en ‘n lang skaduwee in die namiddaglig oor die kalkgrond gegooi. ‘n Entjie daarvan was buitegeboue tipies van plase in die omgewing, maar volgepak met masjinerie en toerusting wat bitter min met plaasbedrywighede te doene gehad het.

Die tegnici was ontspanne. Hulle was immers myle weg van enige oë, en het by die plaashuis se swembad rondgehang, ‘n paar kilometer weg van die toetsterrein.

Die Kalahari was windstil. Dis hoekom die groep die vliegtuig van ver kon hoor en begin regop sit het. Iets was fout. Bo hulle was immers beperkte lugruim, beperk tot militêre gebruik.

Die Cessna se lae intog het dit bevestig, ‘n astrante 50 meter bo die grond, reguit op die plaas af en oor, toe padlangs noord na die halfvoltooide skag.

Regs van die vlieënier was die sitplek verwyder, ‘n gat in die vloer van die Cessna gesny en ‘n kamera gemonteer. Een lang rol film is gou uitgeput toe die twee insittendes hul teiken opspoor en dit oorkruis het.

Op die grond het een van die tegnici dadelik na die plaastelefoon gehardloop om die base in Pretoria in te lig. Dié het begin navraag doen, maar niemand kon lig werp op die herkoms van die geheimsinnige vliegtuig nie. Daar is geen vlugplan ingedien nie, en die 8 SAI-Weermagbasis op Upington het geen kennis van die vliegtuig gehad nie.

‘n Dag of wat later het die span ‘n oproep uit Pretoria ontvang met die bevel om haastig te onttrek. Vastrap se teenwoordigheid is inderdaad aan die buiteland uitgelap en ‘n atoom-inspeksiespan was op pad. Die masjinerie is oornag afgebreek, die sensitiewe toerusting in ammokiste verpak en weggery. Van die groter stukkie toerusting is tydelik in vlak gate onder die sand begrawe en alles wat moontlik kon dui op ‘n kernteenwoordigheid weggery, weggesteek of verwoes.

Teen ligdag was Vastrap weer net ‘n doodgewone militêre bombaan.

Pretoria het intussen die inligting aan die intelligensiedienste deurgegee. Volgens ‘n bron was die Cessna bekend as ‘n Amerikaanse ambassade-vliegtuig wat gereeld personeel tussen Kaapstad en Upington vervoer het. Tussen die lyne gelees, dit was CIA. Dit was dus duidelik ‘n verkenningsvlug, en die mense het geweet waarna hulle soek.

Die ontdekking van die skag by Vastrap is vandag nog nie volledig verklaar nie. ‘n Russiese satelliet het in die jare sewentig foto’s van die area geneem toe dit per toeval laatmiddag oorhoofs was en die hoë skag se lang skaduwee duidelik sigbaar was.

Die vraag is, hoe het hulle geweet waar om te soek?

Die antwoord lê waarskynlik by die destydse SA Vloot-skakeloffiersier en Sowjet-spioen Dieter Gerhardt, wat die aanleg by Vastrap onder een of ander voorwendsel besoek en waarskynlik die ligging aan sy Sowjet-base verklap het. Russiese satelliete het gou hul lense na hierdie streek gedraai. Die res is geskiedenis.

Russiese foto-analiste het die terrein die lang skaduwee op die satellietfoto’s opgemerk en dit na die KGB aangestuur. Om een of ander duister rede is hierdie inligting aan die CIA oorhandig. Die motief is tot vandag nie duidelik nie – die KGB en CIA was immers ideologies ver verwyderd.

Ewenwel, die CIA het dit aan die diplomatieke diens oorhandig en binnekort was daar ‘n Amerikaanse diplomatieke afvaardiging in die kantoor van die minister van Buitelandse Sake, Pik Botha. Dié het die teenwoordigheid van ‘n toetsskag natuurlik ontken. Tot die Amerikaners die lugfoto’s voor hom geplaas het.

Dit is ‘n waterboor, het hy teruggekap.

Die Amerikaanse ambassadeur het hom volgens dr. Von Wielligh beleefd geantwoord: ” … there is no place on God’s earth that you would need a drill of that size to get water”. Die skag was immers ‘n meter wyd, en die boor amper 30 meter hoog.

Minister Pik het seker swaar gesluk.

Dieselfde dag het die CIA in ‘n verslag gesê daar feitlik geen twyfel was dat premier John Vorster moes geweet het dat die bomprogram nie  geheim kon bly nie. Ook dat hy die toetse waarskynlik met opset en in weerwil van internasionale kernbeperkings-ooreenkomste laat uitvoer het as ‘n middelvinger-waarskuwing aan die Weste.

Dit was amper. En soos SKAG ook aanvoer, was die rede waarom die beplande kernontploffing teen daardie tyd nog nie voltooi was nie, die tekort aan wapengehalte uraan-235. Maar dis genoeg van ‘n spoiler. Lees gerus die boek.

Ek het in die aanvanklike manuskrip van SKAG ‘n gedramatiseerde weergawe van die Cessna se vlug oor die Kalahari ingesluit. Dit het onnodig geblyk in die finale manuskrip, en is gevolglik uitgelaat. Net vir die lekkerte, vir diegene wat nóg soek na die lees van die boek, gee ek dit hier:

Kalahari-lugruim, noord van Upington

8 Desember 1987

Barney Milano draai sy Cessna 210 negentig grade na regs, en begin die volgende been van sy soekvektor. Op 9000 voet is die dorre Kalahari ‘n eindelose landskap van rooi en swart duinvelde, met enkele ligter onderbrekings waar oer-oue rivierlope wit kalkklip ontbloot het, wit strepe wat die reëlmatige, windgedrewe duine met ongereelde tussenposes onderbreek.

Langs hom tuur sy Amerikaanse ambassade-kollega, Frank Hereford, na regs uit die vliegtuig. Nie een sê ‘n woord nie. Om enige iets ongewoon in die landskap onder hulle uit te ken, vat al hul konsentrasie. Iets wat bemoeilik word deur die feit dat dit wat hulle soek, waarskynlik verbloed is. En dat hul reëlmatige vliegpatroon binnekort iemand se aandag by Upington se radarstasie gaan trek.

“What’s that?” Hereford wys opgewonde na iets op twee-uur voor hulle. Milano lig homself in sy sitplek om te kan sien oor die neus, trap dan die regterpedaal om die Cessna na regs oor te hel.

“What’re you looking at?”

“See the river bed? Where it curls to the right? A jeep track leads off further to the right, then doubles back. What’re those things, where the road ends? Those round things?”

Milano vlieg tot links van die pad, dan sit hy die vliegtuig in ‘n vlak draai na regs sodat albei ondertoe kan kyk. Hereford aktiveer die kamera se sluiter en neem ‘n paar foto’s wanneer hy weer gelyk vlieg.

“That’s them, Barney! I’m sure! That looks like silos, man, like missile silos, only smaller! Look at the activity around the two circles! That’s recent!

“You sure they’re not drinking troughs?”

“Positive.”

“I’ll go lower. We can check. But let me turn off the altitude on the transponder.”

Milano draai ‘n knop, stel die instrument sodat dit net posisie, en nie hoogte nie, uitsaai. Hy weet dis ‘n kwessie van tyd voor Upington Beheer hom daaroor gaan roep. Daarom druk hy die neus in die draai ondertoe en die Cessna begin ‘n lui regwaartse rol na 7000, 6000 voet.

“Take another picture. Can’t go lower – Upington Control’s gonna start revving us soon.”

Dan kraak sy radio wanneer Upington se lugverkeer-beheer op die lug kom.

“Lima Lima Zulu, Upington Control?”

Milano antwoord onmiddellik. “Upington Control, Lima Lima Zulu.”

“Good morning sir. Confirm your altitude please? We seem to have lost your transponder transmission.”

“Upington, we’re at, ah, 6000 foot, we had some bad turbulence at cloud base and temporarily descended to a more comfortable level. There seemed to be no traffic in the area.”

“Lima Lima Zulu, copy, no traffic in your area, return flight level 70 when clear.”

“Upington Control, thank you, returning flight level 70 when clear. Will report next inbound for joining instructions. Lima Lima Zulu.”

Milano kyk na sy kollega. “Fuck it, they’re onto us. We’d better scram.”

“OK, I got the shots. I think we’ve got it, Barney. Those are bomb silos. I’m convinced of it. Let’s get back and process the film. I’ll call the boss from Upington to report.”