Hy sit met sy rug na die restaurant se deur. Nie soos ‘n mens van ‘n beroepspioen sou verwag nie. Ek wys hom daarop. MK lag net. Iets sê my hy weet presies wie inkom. MK weet al veertig jaar alles. Hy is ‘n spioenvanger.

Dis wat hy homself noem. In werklikheid was hy hoof van ‘n teenspioenasie-afdeling binne die intelligensiedienste van die ou regering, en het onder die post-apartheidsdienste ook gewerk. MK het ons land se geskiedenis op ‘n heeltemal ander vlak deurleef.

Ek is hier om hom sy komplimentêre kopie van SKAG te gee, vars uit die oond. Uit dankbaarheid vir hulp verleen met die agtergrond vir die boek. Om eerlik te wees, ek is bang vir sy reaksie. My kennis van sy wêreld is noodwendig tweedehands, die vertelling van ‘n vertelling. Want sy wêreld is – en bly – skemer.

Ek het destyds by hom aangeklop vir hulp met die detail oor destydse agente se opleiding. Oor vals paspoorte, die “tradecraft” van spioenwees, van dinge wat jy nooit maar nooit by lughawens moes aanvang nie. Vreemd genoeg het hy my uiteindelik onwetend met die storie self gehelp. Want niks wat ek in my wildste verbeeldingsvlugte kon optower, was so fotogenies vreemd soos sy werklikheid nie.

MK is grys, ‘n aftrede-baard wat weer gewig gee aan ‘n gesig afgerem deur ‘n leeftyd van wakkerlê. Hy vertel my van sy toetrede tot die diens in die sewentigers, sy afgryse by die vergrype wat hy destyds as jong polisieman gesien het, hoe hy spioen geword het om ‘n verskil te help maak. Om die gewete van ‘n generasie te word.

En? Het dit gewerk? Kon jy dinge keer?

Die gesprek duur anderhalf uur, nog ‘n koppie later. Ek voel die stryd in hom aan, tussen die trots van ‘n leeftyd se netwerk opbou, en die teleurstellings daarna. Tussen ‘n onsigbare frontlinie hou en jou rug dophou ingeval die Nag van die Generaals jou ook inhaal. Ek voel die pyn van sy teleurstelling, die einde van sy era, die frustrasie van operasionele suksesse wat stil saam met jou graf toe moet gaan.

Ek vra hom of daar stories is wat vertel moet word. Hy knik sonder aarseling, vertel van die heel eerste intelligensieverslag wat op sy lessenaar beland het, van die grootskaalse diefstal van township-boubenodighede deur die wit regeringslui, sinkplate wat vir eenkamerhuisies bestem was maar eerder motor-afdakke by ryk woonbuurte geword het. In die sewentigers al.

Jy vra jouself af, hoe de hel het ons destyds ooit ‘n rewolusie gekeer? En jy wonder hoe anders daardie geskiedenis vandag geskryf sou gewees het as dit nie vir skadu’s soos hy was nie.

Kan ons die storie skryf? Hy haal aan uit die Wet op Staatsgeheime. Jammer, nee.

Ander stories? MK lag, vertel ‘n paar. Mense wat hulle oor drie jaar dopgehou het sonder dat dié ooit lont geruik het. Stories oor die onopgeloste geheime in ons land se geskiedenis. Wie vir wie geskiet het. Of nie. En oor tyd besef jy dis bloot klanke. Hy raak nooit die dieper bas-note nie, gee niks weg wat jy nie al in ‘n koerant gelees het nie. Die klassieke hanteerder. Met hom kom jy arm uit die gesprek. Jy gee meer as wat jy ontvang.

Tensy jy natuurlik net wil luister. En leer.

Ek vra hom grappig of ek ‘n kopie van SKAG op hom sal mors. Of hy dit gaan lees. Ja, hy sal. Hy kan Afrikaans lees.

En so is ons uitmekaar. Ek honger vir nog, maar wil nie verder vra nie. En ek is angstig oor sy reaksie op die boek. Miskien wil ek nie weet nie. Beleefd sal ook werk, dankie.

Twee weke se stilte. Toe ‘n Whatsapp van hom, uit die bloute, waarin hy sê hy het SKAG in drie dae platgelees. Tot my verligting het hy die boek geniet. Meer nog, ‘n opmerking oor die dialoog tussen die SKAG-karakters:

“I can just hear my colleagues in the service and military using those exact words. It is as though you tape recorded them and then printed the dialogue. It could not have been more authentic.”

Die res van die boodskap, wat ek om veiligheidsredes geredigeer het, is minder opbeurend. Dit vertel van ‘n loopbaan van keer teen die Swartjan Beetges van ons geskiedenis, van presidente oortuig, van voortvarende ministers terugrem.

“I recounted many episodes in my life when these words and sentences triggered treasured memories. I can discuss with you just how real the threat of a military coup was. Your book brings out so many factual elements of those tumultuous times. The authorised ops. The anauthorised ops. The denials. The intrigue. The lies. The cover ups. The secrecy. The absolute compartmentalisation. The deceit. The duplicity. And of course the liaision and joint operations between services.

“I described your book to a very close colleague as “fictionalised fact.” All factual and at times almost unbelievable. More is the pity most people will not realise how close it is to the truth.”

Ek is verstom, aangenaam verras. Terselfdertyd stil dankbaar. Die gevoel wat jy kry wanneer jy onwetend, in die donker, teenaan ‘n afgrond geloop en daarmee weggekom het.