Die toneel wat dit nooit volledig in Ivoor gemaak het nie. Dit het my altyd gepla – Tex se onromantiese trou-vra aan die einde van die boek. Ek moes dit oplaas voluit skryf, die arme dremmel darem ‘n kans gee om mens te wees.

Oos van Bagani, Caprivi

Die helikopter se dreuning klokslag vieruur bring Helena oogvrywend uit die tent na ‘n diep middagslapie. Haar donker hare staan kussinggedruk orent.

“Klink my ons het besoekers?” Sy gaap, kyk oos bo die bome van die kampplek.

Lekker. Die manne is mooi op tyd.

Sy sien nou eers my langbroek en netjiese hemp, die enigste wat ek vir ons vakansie saamgebring het. Die lodge hier langsaan se restaurant het ‘n dragkode. Informeel, maar steeds.

“Hoekom is jy so netjies?”

“Ons kan maar net sowel gaan uiteet. Miskien moet jy maar ‘n ietsie aantrek?”

“O, OK. Ja, dit sal nice wees. Gee my ‘n oomblik.” Sy gaap weer, glip terug tent-in.

“Is ons nie ‘n bietjie vroeg vir aandete nie?” Haar stem kom uit die tent. Ek glimlag stil. Ja, ons is baie vroeg, maar daar’s ‘n rede . . .

“Ja, is seker. Maar dis so ‘n mooi aand. Ons kan eers bietjie buite sit en ietsie op die lodge se stoep drink.”

Sy druk deur die tentflap, knoop ‘n langbroek toe, ‘n effekleurige bloes bo-oor. Sy het haar hare inderhaas getem, ‘n blos op haar wange van die slaap.

Ek neem ‘n geheue-foto, Helena in die tentopening geraam. My hart skop.

Een jaar na ons ontmoet het, en hier staan ons nou. Ons eerste vakansie saam, ses dae waarin ek haar die eerste keer ordentlik sien ontspan het. Ek ook. Een waarin sy die finale skanse van my alleenwees stelselmatig, sonder weerstand afgebreek het. 

“Jy reg?”

Die helikopter is steeds uit sig ander bome, die turbine na landing aan’t afwentel.

“Wie sou dit wees?”

“Weet nie. Kom ons gaan kyk,” sê ek, en lei haar paadjie-langs die na die netjiese lodge-grasperke aan die ander kant van die bos.

Die Squirrel staan op die landingstrook aan die verste deel van die lodge se gronde. Die deure swaai oop toe ons dit in sig kry, maar Helena sien dit skaars.

Haar oë is op die lang, witbeklede tafel op die rand van die landingstrook. Sy los my hand, stap teen dubbelpas nader, steek vas. Agt sitplekke, sien ek haar tel. Sy kyk vinnig om, dan kyk sy weer na die helikopter, waar ‘n priester met ’n pers kleed om die skouers teen die son tuur.

Die priester gewaar my, waai en stap nader.

“Tex?” vra Helena. “Ken jy hom?”

“Jip. Hy’s die priester op Luiana. Daar oorkant in Angola, waar Carlos werk.”

“En wat maak hy hier?”

Ek sê niks, wys net na agter haar.

Sy swaai terug, sien nou eers die groepie agter die priester. Brigadier van der Bijl, James Ingles, Ron Haywood en Carlos Viyera. Laaste Jan Botes, na hy die helikopter afgesluit het.

“En wat maak húlle hier?”

“Wel, ons het darem seker getuies nodig?”

Sy staar my oopmond aan. Wys met ‘n duim oor haar skouer na die naderende groep, stop midde-in ‘n gedagte, en frons, kastig kwaai. Sy staan hande in die sye:

“Tex Texeira, as jy my pas gevra het om te trou, beter jy dit ordentlik doen, of dis nee!” Ek sien die blink emosie opwel, en steek hand in my sak.

Die ring brand nou al ‘n week in my sak, my stille konkel-genoot elke keer as ek weggeglip het om Botes te bel oor die reëlings.

 Die goud blink tussen my vingers, vang die laatmiddag son. Ek hou dit na haar uit.

“Helena, jammer oor my lomp-geit. Jy ken my. Hoe vra ‘n mens? ‘Helena Paxton, sal jy met my trou?’ Dit klink maar hel cheesy. Nee.”

Dis moeiliker as wat ek gedink het. Sy staan, onseker, glimlag skeef. Die klein wetter geniet my ongemak. Agter haar kom die groep aan, en ek raak angstig. Dis seker wat groepdruk is. Ek sluk hard, probeer weer:

“Helena, ons ken mekaar ‘n jaar. ‘n Wonderlike jaar. Jy’t hierdie harde dop saggemaak, jy’t my laat voel wat ek lankal gedink het is verby vir my. Laat mens word. Ek kan nie aan ‘n lewe dink sonder jou by my nie. Ek, uhm, . . . sal jy . . .”

Ek kom nie verder nie. Sy is om my nek, trek my vas, en ek voel die nattigheid teen my wang. Ek’s nie seker of dit myne of hare is nie, maar dit maak nie saak nie.

“Ja,” sê sy sag. “Ja, ek sal.” En hou haar ringvinger na my uit.

“Jirre my ou, jy maak dit ook net betyds!” Jan Botes, agter haar. “Wat’s dit met jou, Tex? Like jy dit om so on the edge te leef? Goeie aarde, as jy meer tyd nodig gehad het, kon ek maar nog ‘n draai gevlieg het!”

Ek vee my gesig droog, lag verleë. Helena het my arm in ‘n greep wat niks kan loskry nie. Sy straal langs my.

“Jy sal niks van die soort doen nie, Jan! Kom, ons het ‘n bruilof om te vier!”