
Navorsing is altyd die lekkerste deel van skryf. Veral as jy eerstehandse ervaring van jou onderwerp kan opdoen. My jongste boek, DOLOS, se hoofkarakter is ‘n uitnemende skut. Ek wou in sy kop kom. Nie net die tegniese kant nie, maar die hart en siel van iemand wat mense dae lank kon dophou, hulle intiem kon leer ken. Dan koelbloedig kon skiet.
Dis ‘n moeilike brug om oor te steek. My navorsing het getoon dat omtrent een persent van skuts in ‘n militêre opset dit kon doen – en vir ‘n verlengde tyd kon volhou. Soos een skrywer dit gestel het, min van hulle kon “bruikbare soldate bly”.
In ‘n siviele opset sou dit selfs minder wees. Die teiken is nie meer die vyand nie. Hy of sy is bloot ‘n teiken, ‘n voorwerp wat vir iemand se gerief “verwyder” of “geneutraliseer” moes word.
Wie is dié mens? Wie kon dit doen, en daarmee saamleef? Min weet. Profesionele laksmanne of sluipskutters adverteer nie openlik hul dienste nie. Daarom bly die persoonlikheid ‘n enigma, en ‘n gewilde onderwerp vir fiksie.
Ek was gelukkig om een persoon op te spoor wat skuts opgelei het, en deur hom, ‘n treetjie nader aan die sielkunde van die skieter te kom. Dit was steeds op armlengte, maar ek kon ‘n duideliker prentjie begin vorm van wat dié mens se innerlike lewe moes wees. Hoe hy sy take regverdig, die besondere kuns om te kon wegkom ná die skoot, hoe hy uiteindelik met die daad saamleef. As hy sy loopbaan vir lank genoeg oorleef.
Dié agtergrond is ingeweef in een van die karakters, wie vir doeleindes van verassing ek eers ongenaamd hier laat. Hy is kompleks, leef op die rand van ‘n onsekere moraliteit, sy persoonlikheid gevorm deur persoonlike tragedie en die politiek van die tyd. Hy het begin as ‘n agtergrondkarakter, later onthul, maar soos met alle goeie karakters, het hy homself vinnig tot op die voorgrond gestoot. Ek het sy agtergrondskepping besonder geniet, en dit ver gaan haal – by ‘n bron in Toronto, Kanada.
‘n Groot deel van die agtergrond word ook via een van my gunsteling-karakters ooit aan die leser vertel. Adjudant Cor Buitendag, instrukteur by die Verkenningsregiment se skool in skietkuns by Murray Hill, was die voertuig hiervoor. Buitendag, ‘n fiktiewe karakter, het óók binne die eerste dag van die blad af gespring en homself na vore gedwing. Dis altyd ‘n bleddie wonderwerk in die skryfproses. Ek het teruggestaan en dit laat gebeur.
Maar meer daaroor in ‘n latere plasing hier.
Die ander kant van die navorsing wat ek graag wou deurleef, was ‘n persoonlike ervaring van langafstand-skiet. Ek kom uit ‘n geweer-familie. My pa, Jock, was ‘n bekende geweermaker. My oupa en oom Springbokskuts, my pa ‘n provinsiale een. Ek kán skiet, maar vrot vergeleke met my broer Wollie, ‘n druiweboer by Klein Pella in die Noordkaap. Dis hier waar ek gaan aanklop het vir daardie ervaring.
Wollie het sy eie skietbaan op die plaas. Hy is lid van ‘n aktiewe groep baanskuts, en het naam gemaak as ‘n spesialis-herlaaier. Hy toets ladings met ‘n chronograaf, bereken koeëls se val, slaankrag en spoed oor verskillende afstande om hoogs akkurate ammunisie konsekwent te kan herlaai.
Ek het die geleentheid gehad om met hierdie wapens en ammunisie op sy baan aan te lê. Die teiken – staalplate op afstande tot 1000m geplaas. Ons het vir die oefening eers ‘n skoot op 300m gedoen om die geweer te zero. Dan, met ‘n komplekse verstelling aan die teleskoop om te kompenseer vir val van die projektiel oor afstand, en om toe te laat vir ‘n ligte wind, weer op 600m probeer. Daar kon ek nog byhou, maar op 1000m het die kruishaar die teiken omtrent heeltemal verbloem.
Dis moeilik. Op daardie afstand hoor jy nie eers die slag van die koeël nie. Jy moet stap en gaan kyk. Ons het, maar kon nie tussen die veelvuldige gate in die plaat positief wees ons het die teiken getref nie. Ek het dit daar gelaat in die besef dat dit ‘n leeftyd van skiet sou kos om so ‘n skoot met selfvertroue te waag.
Boonop is die wiskunde daarvan bo my vuurmaakplek. Selfs wanneer dit vergemaklik word deur apps wat die presiese lading, gramme kruit, gewig van die punt, die loopsnelheid en hoek van val in ‘n oogwenk uitwerk. Probeer jou indink hoe iemand hierdie berekeninge blitssnel moet doen in die hitte van ‘n gevegsituasie waarin elke sekonde tel.
Hierdie kuns was vir my die sentrale tema vir DOLOS – die bomenslike vermoëns van hierdie mense. Ongeag aan watter kant van geregtigheid hulle staan.
DOLOS verskyn middel Mei 2023.




